Klofies onttroon Centurion as kampioen van die Finsbury-reeks

Written by Hannes Nienaber

NewsGWaterkloofFinsKamp School of Cricket | Klofies onttroon Centurion as kampioen van die Finsbury-reeks - School of CricketDie Hoërskool Waterkloof het Saterdag op sy tuisveld in Pretoria vir Centurion as die kampioen van die Finsbury-krieketliga onttroon. Hardus Coetzer het met ‘n skitterende veelsydige vertoning die Klofies tot die titel gelei.

Waterkloof het die eindstryd van die reeks met 121 lopies gewen. Die wedstryd is regstreeks via KlofieTV op digitv.co.za uitgesaai.

Coetzer (139*) het met sy onoorwonne honderdtal gehelp om aan die kampioen se kolfbeurt aansien te gee. Waterkloof was met die telling op 35/4 diep in die moeilikheid voordat Coetzer sy span met sy kolfbeurt vanuit die moeilikheid tot in ‘n stewige posisie geplaas het.

Coetzer is met sy telling op 81 ‘n tweede kans gegun danksy ‘n verbroude vangkans, maar hy het na sy honderdtal behoorlik onder die Woeries se boulers ingeklim. Hy het 132 aflewerings in sy beurt trotseer waarvan hy nege viere en ses sesse gemoker het.

Die Woeries se Conrad Mouton (4/52) het die tuisspan se ander kolwers behoorlik laat bontstaan. Mouton het ‘n vyftal paaltjies vir sy boulwerk verdien, maar sy boulsyfers is so bietjie skade aan die einde van die beurt deur Coetzer berokken.

Coetzer het in Franco Bester (25) en Richardt Ackermann (24) vennote gehad wat saam met hard gewerk het om Klofies se kolfbeurt aansien te gee.

Coetzer wat ook Klofies se aanvangsbouler is het ook met die beste boulontleding vir die wenspan gespog. Hy het van drie kolwers vir slegs 24 lopies ontslae geraak. Nathan Wentzel (44) het die meeste weerstand met die kolf vir Centurion gebied.

Coetzer het goeie ondersteuning van Kyle Welmann (2/23) gekry. Centurion is tot 137 lopies in 32 boulbeurte beperk.

Centurion het vanjaar daarna gemik om vir die derde agtereenvolgende jaar as kampioen van die Finsbury-liga se A-afdeling gekroon te word.

Waterkloof is ook die Noordelikes se T20-kampioen en sal in die week teen Ben Vorster in die Titan-halfeindstryd te staan kom.

Beknopte telkaart:

Waterkloof 258/9 (Hardus Coetzer 139*, Franco Bester 25, Richardt Ackermann 24; Conrad Mouton 4/52, Jonathan Vorster 2/46); Centurion 137 (Nathan Wentzel 44; Hardus Coetzer 3/24, Kyle Welmann 2/23). Waterkloof wen met 121 lopies.

[powr-comments id="214b45e7_1582454170227"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.